Thursday, March 7, 2013

Wes Beeld Story


Tuisblad / Nuus / Wes-Randse polisie oes pryse in

WES-RANDSE POLISIE OES PRYSE IN
Amanda Roestoff
Foto: BONGIWE GUMEDE
2013-03-07 00:00
Lizel van Eeden, bemarkingsbeampte van Matla A Bana saam met ao. Peet du Toit van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe in Krugersdorp wat onlangs weer vir sy ondersoekwerk in die Sondagverkragtersaak vereer is.
Die kinderregte organisasie Matla A Bana het vandeesmaand 16 polisielede van eenhede vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) in Gauteng erkenning gegee vir uitsonderlike dienslewering in die gemeenskap.
Die Wes-Randse speurder ao. Peet du Toit van Krugersdorp se GKS-eenheid en ’n soortgelyke eenheid van die Carletonville-polisiekantoor is saam met ’n senior polisieoffisier as uitblinkers aangewys.
Die vakbond Solidariteit het Du Toit ’n jaar gelede vereer met ’n Sterre in die Gemeenskap-eerbewys vir uitmuntendheid in polisiewerk.
Toe het sy dryfkrag om met die veeleisende werk vol te hou ’n deurslaggewende rol gespeel in die aankeer van Jaco Steyn, beter bekend as die Sondagverkragter.
Vandeesmaand het Matla A Bana sy hoogste toekenning aan Du Toit toegeken vir dieselfde saak. Hiervoor moes hy 87 getuies in sake sedert 2008 moes opspoor om die suksesvolle vervolging van Steyn te verseker.
Hy is saam met die staatsaanklaer Carina Coetzee vereer, ná albei se toewyding bygedra het daartoe dat Steyn tot lewenslange tronkstraf gevonnis is.
“Dit is altyd ’n eer om só toekenning te ontvang. Die ware helde in die saak is egter al die kindertjies. Om al daai emosies weer in ’n hofsaak te herleef. ” sê Du Toit. “Daar het baie tyd en werk in die saak ingegaan. Ek is net verlig dit is nou verby,” voeg hy by.
Die GKS-eenheid in Carletonville aan die verre Wes-Rand is as die beste eenheid in Gauteng provinsie aangewys.
Nog ’n hoogtepunt was ’n toekenning aan kol. Paul van Eeden, ’n polisieoffisier verbonde aan die polisie se hoofkantoor in Parktown, Johannesburg, wat meer as 2000 kilometer binne 24 uur gereis het om R100 000 vir mishandelde kinders in te samel.